Afrikaans Bible

PSALMS 138

PSALMS

Return to Index

Chapter 139

1

 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my. 


2

 U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. 


3

 U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. 


4

 Want daar is nog geen woord op my tong nie -- of U, HERE, U ken dit geheel en al. 


5

 U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. 


6

 Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie. 


7

 Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? 


8

 Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! 


9

 Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, 


10

 ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou. 


11

 En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, 


12

 dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig. 


13

 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. 


14

 Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. 


15

 My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. 


16

 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie. 


17

 Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! 


18

 Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U. 


19

 o God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg! 


20

 Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef -- u teëstanders! 


21

 HERE, sou ek die nie haat wat vir U haat, en 'n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? 


22

 Ek haat hulle met 'n volkome haat; vyande is hulle vir my! 


23

 Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; 


24

 en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg! 


PSALMS 140

 

 

 

 

HTMLBible Software - Public Domain Software by johnhurt.com

 


Other Items are Available At These Sites: